Meer oor Trougereed


"En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is die liefde!"
                                                                                                  1 Korintiërs 13:13

Elke meisie droom oor haar troudag en dit is fantasties as die waarwording daarvan op die horison begin wink!  Die wit rok, die eerste soen en jul lewens wat nou saam begin as Meneer en Mevrou!  Dit is 'n pragtige dag of dit nou reën of hael want jy is die prinses in die sprokiesverhaal en jou prins is aan jou sy!

Hierdie dag wat so getooi is met blomme en lag en sjampanje en dans is maar die eerste dag van jul toekoms saam en is uitgedroom in die kleinste detail.  Ure se beplanning en idees bymekaar maak uit hope tydskrifte en van Pinterest af.   Daar is lang besprekings oor of julle nou jou klein nefie gaan vra om die kerkblaadjies vir die gaste uit te deel sodra hul daar aankom en of julle dit eerder  opgerol in 'n mandjie by die ingang van die kerk gaan sit.   En dit is heeltemal te verstane, mens staan nie net een oggend op en besluit om vandag te trou en alles is perfek soos in jou droom nie. Dis  voorbereiding, opoffering en inspanning - en dis alles jou droomdag werd.  

Tog weet ons almal dat dit in die huwelik self is waar ons die meeste van ons tyd gaan spandeer en nie in ons wit rok nie.  Ons droom ook van “happily ever after” - vir altyd verlief en gelukkig tot die dood ons skei!   'n Huwelik wat altyd vol van geloof, hoop en veral liefde sal wees wanneer die troudag blomme verlep het en die sjampanje op is.  Ons huweliksdroom is eintlik maar net soos ons troudag droom - dis voorbereiding, opoffering en inspanning - en dis alles jou huweliksdroom werd!

Daar is oorgenoeg blogs, webtuistes en idees om jou troudag soos 'n troue uit 'n bruidstydskrif te laat lyk.  Trougereed is  egter 'n blog gefokus om jou "ever after " waar te maak.  Om jou voor te berei om te trou met die een wat jy liefhet en om liefde te kies elke dag daarna.   

Mag wat jy hier beleef jou inspireer om in alle opsigte Trougereed te wees .

Baie voorspoed en seën vir jou huwelik