5 Dinge wat ek by my man geleer het

In Maart vier ons, ons vierde huweliksherdenking!  Al is dit nog jare ver van 'n goue bruilof is dit so lekker om terug te kan kyk oor die afgelope vier jaar en hoe ons albei gegroei het in ons huwelik en as mense. 

Buiten dat ek by my man geleer het om van animasie films te hou is daar soveel dinge waar hy my menswees kom verryk het en waarvoor ek dankbaar is.  Ek dink spesifiek aan hierdie vyf dinge wat ek by Stephan geleer het: 


  1. Om TWEEDE kanse te gee: Vir my het 'n meningsverskil tussen ons gewoonlik die einde van die wêreld en ook ons verhouding beteken.  Al was dit hóé moeilik moes ek leer dat dit normaal is om te verskil en dat dit nie ons liefde vir mekaar moet beinvloed nie en "To always have enough courage to trust love one more time."  Lees meer hierooor  in 'n vorige blogpost: As ons nie saamstem nie

  1. Om aan te hou LEER: "Anything that is not growing, is dying."    Ek pluk nou die vrugte van al die inligting wat my man my op 'n gereelde basis gevoer het, die boeke wat hy vir my gegee om te lees het, praatjies waarna ons geluister het en mense met wie ons tyd spandeer het.  Partykeer het ek my voete gesleep as hy nóg iets huis toe bring wat hy dink ons sal goed doen, maar as gevolg van sy prioriteit om aan te hou leer, kan ek sien dat ons huwelik, verhouding met God en tot die manier wat ons ons finansies hanteer net soveel  beter is as voorheen.  Dit maak dit mos nou lekker om uit te sien na die jare wat voorlê!

  1. Om te LAG: Sjoe, ek kon myself, mense en enige situasie darem maar ernstig opneem hoor!  Elke gesprek hoef toe nou nie doodsake te wees nie en partykeer in die middel van 'n bietjie konflik oor iets totaal onbelangrik sal ons albei sommer uitbars van die lag as ons besef hoe belaglik ons nou optree. Ek geniet ons verhouding vandag nóg meer en dit is ook vir my so bevrydend om vir myself te kon leer lag!

  1. Om altyd die BESTE te glo: Altyd. Van almal. Verwag die beste en glo dat hulle harte goed is. Hierdie een bly vir my 'n uitdaging maar ek besef dit is presies hoe ek behandel wil word - dat ander mense moet glo dat my intensies goed is al sê ek partykeer die verkeerde ding op die verkeerde tyd of doen iets waaroor ek nie behoorlik gedink het nie.

  1. Hoe belangrik GESONDHEID is: Nou is ons jonk en gesond en kan 'wegkom' deur te eet wat ons wil, maar eintlik sien mens net nog nie die gevolge van ons aksies nie. Aan die ander kant kan ons weer die 'hier en nou' gebruik om te belê in ons toekoms eendag.  Gesondheid is iets wat mens nie kan koop nie en dit is ook 'n geskenk wat ons aan mekaar kan gee en as mens só daarna kyk is dit glad nie 'n opoffering om te maak nie! Gesondheid gaan nie net oor om die regte gewig te wees nie, want 'n gesonde mens het energie en  voel goed! As ons nou al gesond eet en oefen dan stop die effek daarvan nie net by onsself nie maar dit affekteer die kwalitiet van ons verhouding met mekaar en eendag met ons kinders en kleinkinders.

Of ek ooit by hom gaan kan leer om van Olywe of Sushi te hou twyfel ek sterk, maar ek sien uit na al die ander dinge wat ek nog by hom gaan leer!

No comments:

Post a Comment