Vir jou strooimeisies

    Jou goeie vriendin trou en jy is so bly vir haar! Julle bespiegel al lankal wanneer die groot vraag gevra gaan word en julle het al stilletjies begin stroomeisie rokke kyk.  En nou is die groot dag hier en sy het jou gevra om haar strooimeise te wees! Jy soek al lankal skoene wat perfek by jou uitrusting gaan pas en moet nog net finaal besluit tussen twee pare oorbelle wat albei mooi sal lyk. 

    Net voor jy begin dink oor hoeveel pret haar troue vir jou gaan wees onthou dit is immers jou beste vriendin se groot dag net soos jy graag wil hê dit moet jou dag wees as jy die dag trou.   Sy het jou gevra om haar strooimeisie te wees omdat sy graag een van die spesiaalste oomblike in haar lewe met jou wil deel, maar ook omdat sy al die hulp nodig gaan hê wat sy kan kry.  Haar troudag opgesom in een woord vir jou: diensbaarheid.  Jy gaan baie dinge agter die skerms moet doen en moet rondhardloop in jou hoëhaak skoene  selfs sonder 'n behoorlike dankie.  Dink dus mooi of jy haar aanbod om bruidsmeisie te wees wil aanvaar want dit is 'n dag van jouself neerlê  en haar behoeftes jou nommer een prioriteit maak. 


    Hier is so paar idees van hoe jy diensbaar kan wees:

    Terwyl sy regmaak

  1. Pamperlang haar met 'n lekker bad en speel haar gunsteling musiek terwyl sy grimeer word of haar hare gedoen word.
  2. Help die kamer skoon maak en skoon hou.  Julle weet mos daardie mooi foto's van 'n bruid terwyl sy regmaak?  Ek het nog nooit 'n klomp handsakke en onderklere sien rondlê nie...
  3. Maak seker sy eet en drink  iets voor die onthaal (en vra tog asseblief een van die strooijonkers om vir die bruidegom ook iets in te stop sodat hy nie flou val van die lank staan in die kerk nie).
  4. Bid vir haar.  Vir kalmte, vir vreugde en God se tasbare teenwoordigheid.  Wees saam met haar dankbaar vir haar droom wat waar word vandag.
  5. Dink vooruit.  Wat moet gebeur na haar grimering gedoen is?  Kan jy dalk solank haar Ma gaan roep sodat sy volgende grimeer kan word?

  6. Tydens die seremonie & onthaal

  7. Dra 'n klein handsakkie met haar lipglans, parfuum en peppermente by jou.  Verfris haar weer voor sy gaan foto's neem en die onthaal begin.
  8. Geniet die foto's en maak dit pret vir almal.  Niks is so frustrerend vir 'n troufotograaf as die gevolg wat negatief is oor hulle moet foto's neem nie.
  9. Dra water aan.  Dit is so maklik vir 'n bruid om te dehidreer want mens besef nie eers mens raak dors nie.
  10. Vra haar so nou en dan of sy nie 'n draai wil gaan loop nie - mens het partykeer iemand nodig om die rok vas te hou.  Julle weet mos..."the joys of being a lady"!
  11. Sit haar ruiker vir haar in water as die onthaal begin.
  12. As sy 'n toespraak gaan maak, maak seker dit is reeds by haar sitplek.
  13. Skep vir die bruidspaar kos in as hulle lyk of hulle besig gehou word deur gaste en nie eers by eet gaan uitkom nie. (Moenie die nagereg vergeet nie - my oulike sussie het vir ons elkeen 'n groot stuk van ons troukoek uitgeskep en saam met ons huis toe gestuur sodat ons darem die volgende dag behoorlik kon proe hoe ons troukoek geproe het.  Mens sny mos die koek omtrent net vir 'n foto en dan is dit weer die volgende ding op die program)
  14. Partytjie saam met haar en bly tot na hul huis toe is.
  15. Laai haar wittebroodsak in die bruidskar as hulle nie by die venue self slaap nie (glip sommer 'n skelm wittebroodgeskenkie in haar tas)
  16. Maak hul eerste aand saam spesiaal.  Ek weet van 'n bruidspaar wat by hul wittebroodskamer ingestap het en orals was kerse en roosblare en daar was reeds 'n warm borrelbad ingetap....sjoe dit klink sommer nou bekend :)

No comments:

Post a Comment