Hoe weet jy dat jy weet?



Sjoe julle, die afgelope paar weke het ek soveel 'riller' stories gehoor van vrouens wat op die Wittebrood of kort daarna besef dat hulle nie getrou het met die persoon wie hulle gedink het hulle mee trou nie.    Dit is asof hierdie onderwerp net oral opduik: Hoe weet jy dat jy met die regte persoon trou?  Ek besef dit is so groot vraag en ook onsekerheid by vrouens vandag omdat soveel mense in ons nabye kringe self sulke stories vertel.   Vrees is egter nie van God af nie en ons kan nie toelaat dat dit ons verlam om nie 'n lewe in oorvloed te lewe nie.

Ek dink dit is soveel genade as mens met die regte persoon trou maar daar is wel 'n paar rooi ligte wat mens dalk twee keer kan laat dink of jy die regte keuse maak:
  • Het hy 'n lewendige verhouding met God?  "Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? "  2 Kor 6:14  As God nie julle fondasie is nie is jul huwelik soos 'n huis wat op die sand gebou word.
  • Luister na jou familie en vriende:  As almal om jou onrustig is oor jou keuse is dit dalk 'n goeie idee om mooi te dink oor of hulle nie dalk 'n gegronde rede het nie.
  • Wees eerlik met jouself: Hoekom is jy in hierdie verhouding?  Is jy saam met hierdie persoon net omdat hy in jou persoonlike behoeftes voorsien of jou vrese aanspreek? Byvoorbeeld, as jy 'n behoefte het om nie alleen te wees nie, is dit dalk die primêre rede hoekom jy aan hierdie persoon vas hou? Omdat jy bang is jy eindig dalk alleen op op die rak?
  • Het jy vrede?  Ek het al self in my lewe soveel keer vir myself gejok en myself oorreed dat die goed wat ek raaksien nie die daar is nie.  As jy nie in alle aspekte van jul verhouding vrede het nie vra God om jou te wys hoekom nie en hoekom jy dit dalk nie wil raaksien nie?
  • Vat jou tyd: "Die liefde is geduldig" 1 Korintiërs 13:4.  As jy in 'n blik gedruk voel om dadelik sekere stappe te neem waarvoor jy nie reg is nie behoort jou maat te verstaan en vir jou spasie en tyd te gee tot jy reg is daarvoor. 
  • Jy weet net:  Soveel mense sal dit sê - "Jy weet net!"  Ek dink dit gaan baie gepaard met 'n bonatuurlike vrede dat julle verhouding God se seën het.
  •  Voorhuwelikse berading: Is hy (en jy) bereid om van vroeg af in jul huwelik te belê?  In hierdie proses kan mens vir mekaar baie belangrike vrae vra wat mens nie altyd aan dink as mens so verlief is dat mens net sterretjies sien nie.  Dinge soos kinders, finansies en toekomsdrome is dikwels goed wat 'n huwelik later op die rotse kan laat beland.  Hoe julle dit ookal doen, leer mekaar ken en vra veral die moeilike vra.
  • Is al die kaarte op die tafel:  Het julle al oor alles in julle lewens met mekaar gepraat? Al is jul geskiedenis in die verlede is dit iets wat jul gebring het waar jul is en dit gaan verseker weer opduik in die toekoms "The good, the bad and the ugly".
  • Bid: Dat God jou hart sal beskerm en sal toemaak as jul verhouding nie van Hom af is nie.

Ek bid dat elkeen wat hierdie lees waarlik geseënd sal wees met 'n man na aan God se hart en dat jou man jou nader aan God sal bring! Amen.

No comments:

Post a Comment