Die 5 liefdestale


Ons as mense het almal liefde op verskillende maniere nodig: fisiese aanraking, opbouende woorde, dade van diensbaarheid, kwalitiet tyd en ook geskenke al is dit net in die vorm van 'n briefie.  Jou primêre liefdestaal is die een wat reguit met jou hart praat.  Selfs al ontvang jy liefde op al die ander maniere maar nie in jou primêre liefdestaal nie gaan jy nie so geliefd voel nie.  Dit is belangrik om as huwelikspaartjie mekaar se liefdestaal te ken sodat jul seker is jul wys gereeld vir mekaar liefde op die maniere wat vir jul elkeen belangrik is.

'n Kort opsomming van die 5 liefdestale is:
  • Fisiese aanraking: Jy voel geliefd as iemand jou liefdevol aanraak
  • Dade van diensbaarheid: Jy voel geliefd as ander jou help met takies of jou dien deur iets vir jou te doen
  • Opbouende woorde:  Jy voel geliefd as iemand jou komplimenteer of hul goedkeuring oor jou uitspreek
  • Kwalitiet tyd: Jy voel geliefd as iemand tyd met jou spandeer en hul aandag vir jou gee
  • Geskenke: Jy voel geliefd as iemand vir jou iets gee wat hulle aan jou laat dink het
My man se liefdestaal is kwaliteit tyd.  As ons so gejaagd is dat ons verby mekaar begin lewe dan voel hy vinnig afgeskeep.  En dit help ook nie as ons tyd saam spandeer maar ek is besig om op my foon vir iemand anders 'n boodskap te stuur nie! Hy wil weet ek fokus op hom, kyk vir hom in sy oë en luister regtig.  Vir my is dit weer belangrik om te hoor hoe hy my waardeer en dat ek wonderlik is in sy oë.  Sonder 'n kompliment nou en dan voel dit nie vir my hy is so lief vir my nie selfs al gooi hy die asblik uit of bring vir my blomme - wat ook natuurlik wonderlik is en ek ook waardeer.  Maar sy verbale kommunikasie is wat my hart vol maak en waarin ek sekerheid kry oor sy liefde vir my.   Net om mekaar se liefdestale te verstaan het 'n groot verskil gemaak in ons verhouding en baie misverstande voorkom.

Gaan na http://www.5lovelanguages.com/ om uit te vind wat jou liefdestaal is en meer oor die vyf liefdestale te lees.


No comments:

Post a Comment