Kersfees en die skoonfamilie



Almal het dit al seker vir jou gesê “Jy trou met sy familie ook” .  Eintlik besef ek nou dat dit nie sommer net ‘n terloopse sê ding was nie maar eerder ‘n waarskuwing.  En daar is seker nie 'n tyd wat dit meer gepas is as oor die Kerseisoen nie...

Jou familie wil weggaan see toe en sy familie dring daarop aan dat julle by hulle hierdie Kesrfees moet wees.   Sy familie hou van ‘n gestopte skaapboud en dubbelle trifle nagereg net soos nog elke jaar van manlief kon onthou maar jy het groot geword met braaivleis en waatlemoen  (Terloops, koekstruif is die afrikaanse woord vir ‘trifle’ maar wie op dees aarde weet wat is ‘n koeksruif vra ek julle?).  Daar is spanning oor hoeveel tyd by elke familie bestee gaan word en spanning oor finansies soos jou bonus wat die lysie van almal wat kersgeskenke moet kry moet dek.  Dit is partykeer so moeilik om beide partye se families gelukkig te hou en selfs as jy slaag sit mens op die ou end met ‘tevrede’ families maar ‘n atmosfeer in jou huwelik.

Ek dink die belangrikste ding om te doen voordat mens besluit hoe julle, julle Kersfees wil spandeer is om aan dieselfde kant te kom.  Om te besef dat julle eintlik in dieselfde span is en dit nie hy en sy familie teenoor jou en jou familie is nie.  Julle is nou julle eie entitiet met julle eie behoeftes en drome  – hanteer mekaar ook so.  Maak dus seker julle weet wat JULLE wil doen voordat julle die res van die familie se Kersuitnodigings aanvaar of van die hand wys.   Wat baie paartjies doen is om beurte te maak en afwisselende Kersfeeste by elkeen se familie deur te bring.  Party paartjies wissel dit ook af met ‘n Kersfees ‘alleen’  waar hulle dalk by die huis bly of iewers gaan rond rits.  Ek dink hoe vroeër mens in die gewoonte kom om julle eie Kerskultuur te skep hoe maklker is dit om dit later sonder enige verduidelikings te kan doen en veral wanneer daar kleinkinders is.  As julle besluit dat julle nie Kersgekenke wil gee nie  of dit wil beperk tot 'n sekere bedrag kommunikeer dit so vooraf en vermy dit om geskenke te gee wat inelkgeval nie uit jou hart uit kom nie. 


Daar is genoeg spanning rondom Kersfees en al die reëlings dat julle nie nog 'n klomp bagasie hoef saam te dra nie.  "My vrede gee ek julle" Joh 14:27.  As daar enige aspek van julle Kersfees is wat julle nie vrede oor het nie moet nie julle energie daarop spandeer nie.  Kerstyd is beslis familietyd  maar kies vrede in jou huwelik eerste voordat jy jou tyd en energie aan ander uitdeel. Julle moet ook kan uitrus, mekaar se geselskap weer geniet en die nuwe jaar met 'n nog sterker fondasie begin!

No comments:

Post a Comment