Ons 5 punt huweliksplan om hierdie ons beste huweliksjaar nóg te maak!

Aan die einde van elke jaar reflekteer ons op die jaar wat verby is.  Ons dink aan al die dinge wat ons reggekry het of nie reggekry het nie en aan die hoogte- en laagtepunte.  Ons dink ook aan of ons huwelik gegroei het en of ons op 'n beter plek is as die jaar vantevore.  Na ons op die vorige jaar gereflekteer het, beplan ons ook die volgende jaar om seker te maak dat ons huwelik aanhou groei want soos Andy Stanley sê "To fall in love requires a pulse.  To stay in love requires a plan."  Ek deel graag met julle 5 dinge wat ons in 2014 anders wil doen om in ons huwelik te belê.


  1. Ons gaan BEGROOT vir ons huwelik

Ons het een keer 'n praatjie van Floris Knouwds bygewoon en hy het voorgestel dat net soos mens begroot vir kruideniersware, mediese fonds, Desembervakansie ens. moet jy ook vir jou huwelik begroot.  Dan is dit maklik om saam op 'n huwelikskursus te gaan of saam weg te gaan vir 'n naweek.  Selfs 'n koppie koffie saam met jou man is geld wat  goed belê word.   

  1. Ons gaan BELê in ons huwelik

Net soos ons beplan het om ten minste drie keer 'n week te gaan oefen, wanneer ons op vakansie gaan en watter aande ons selgroep bymekaar gaan kom het ons ook sekere aktiwiteite beplan wat ons huwelik sterkter kan maak.  "A great marriage isn't something  that just happens; it's something that must be created" Fawn Weaver.  Ons wil spesifiek 'n huweliksboek koop en saam deurwerk wat ons dan uit ons huweliksbegroting sal kan betaal. (ps.  Laat weet my as julle van goeie boeke weet wat nog nie op die boekrak is nie).  Ander voorbeelde van hoe ons in ons huwelik wil belê is deur elke Vrydagaand 'n 'datenight' te hou om seker te maak ons gee mekaar onverdeelde aandag :)  As ons Vrydaeaande na iets anders genooi word sal ons miskien ons 'datenight' aanskuif of vroeër skuif maar gebeur gaan dit gebeur.  Selfs 'n vroegoggend ontbyt by die boeremark is ook vir ons 'n 'date'.

  1. Ons gaan BID vir ons huwelik

Dit is defnitief een van die goed wat ons die meeste afgeskeep het maar iets wat God op ons albei se harte druk om passievol te begin uitleef.  Die feit dat ons eenheid wil behou in ons huwelik is amper 'n waarborg dat die duiwel onenigheid tussen ons sal wil bring.  Ons gaan probeer om al is dit net twee minute voor werk in die oggende, saam of apart, vir ons huwelik te bid en mekaar op te dra aan God.

  1. Ons gaan BEWUS wees van mekaar

Dit gebeur so maklik dat mens verby mekaar begin lewe.  In "The love list" deur  Drs Les and Leslie Parrot skryf hulle oor 'n paar goed wat mens elke dag kan doen om seker te maak dit gebeur nie.  Klein goedjies sal insluit om as julle van die werk af kom mekaar 'n lekker lang soen te gee, oogkontak te maak en mekaar vas te hou.   Ek weet persoonlik dat facebook ons albei verhoed om op mekaar te fokus al sit ons langs mekaar in die bed.  Ons het besluit dat ons een keer op 'n dag 'ons tydjie' het.  Ons sal of gaan stap, saam bad of op die stoep sit en tee drink en net bewustelik teenwoordig wees sonder alles anders wat ons aandag vereis.

  1. Ons gaan BAIE saam Droom (okay okay, Droom het nie met 'n B begin nie maar dit is ook goed om BAIE saam te droom)

In 2014 wil ons meer dinge saam aanpak! Ons wil saam 'n 21 km hardloop ('n eerste vir ons albei), ons wil oorsee gaan, ons wil vir 10 dae lank van suiker  en gluten vas, ons wil 'n naweek wegbreek wat ons net in God se teenwoordigheid spandeer, ons wil begin dink aan 'n gesin (eek!, ek hoop nie my skoonouers lees hierdie nie - die klem is op dink :) ), ons wil 'n braai reël vir ons woonstelblok, ons wil nuwe vriende maak, ons wil beter wees met verjaarsdae onthou en geskenke gee,  ons wil mekaar se grootste 'cheerleaders' wees en  ons wil God vertrou vir finansies om al hierdie lekker dinge te doen.


Sien - daar's BAIE dinge waaroor mens kan droom en dit is seker een van die lekkerste dinge van getroud wees vir my! Waaroor droom julle en hoe maak julle dit prakties?

No comments:

Post a Comment