Ek het nog altyd
gehoop dat ek die 'perfekte' vrou vir my man sal kan wees en altyd so mooi vir
hom soos toe hy dit die eerste keer vir my gesê het. Ek kon sien hy bedoel die woorde regtig en
dat hy waarlik glo daar is niemand mooier as ek vir hom nie (en dat hy geen van
my gelaatsfoute tans raaksien nie).
Onderbewustelik was ek tog bewus van iets soos ouderdom en rekmerke en
plooie wat een of ander tyd sal begin inskop al is dit miskien eers oor 'n paar
jare (het ek gehoop)... Sal hy dan ook dink dat ek die mooiste vrou op aarde is
en dat daar niemand is wat met met my kan vergelyk nie? Dit het nie vir my sin gemaak nie. Tyd is nie 'n luuksheid nie en met tyd was
die waarborg dat ek elke dag 'n bietjie
'minder mooi' gaan word en bietjie minder gaan lyk soos die
universiteits meisie waarop hy nou so smoorverlief is - dit was my lot.
Hierdie vrees het ek
baie diep gebêre en stilweg geglo dat ek als in my vermoë gaan doen om jonk en
fiks en versorg te bly en so ook my kêrel se verwondering te behou tot ons
trou, tot ons kinders kry, hulle uit die huis uit gaan en nog jare daarna tot die
tyd my eendag inhaal en ek gaan moet oorgee aan die stryd wat ek vir jare sou
probeer teenveg.
Op 20 Maart 2010 is
ek my verwonderings kêrel se bruid en ek voel mooier as ooit! Soveel moeite om
die perfekte rok te kry, ure aan grimmering en hare spandeer en prysloos is die
blos van verlief wees op my wange. Ek
probeer om nie daaraan te dink dat oor 50 jaar hierdie prentjie wat voor hom
staan dalk heelwat anders gaan lyk nie. Maar
soos julle weet het ek mos 'n plan...
My bruidegom skuif
later die aand voor die mikrofoon in en kyk na my met daardie verwonderings oë
wat ek nou al so goed ken. Hy sê ek lyk
mooier as ooit vanaand en ek is dankbaar, wat meer sal 'n bruid nou wil hoor? Maar toe kom die woorde wat my vir altyd
vryspreek van my vrees "Alles wat ek nog ooit in 'n vrou wil
hê, kies ek om in jou te
vind". Kan dit toe al die tyd so
eenvoudig soos 'n keuse wees? En dat my
bruidegom sal kies om al sy drome oor 'n vrou, nou en vir altyd in my te laat
waar word? Selfs as die selluliet, rekmerke en plooie my herinner dat ek nie
soos die voorbladmodel op die tydskrif lyk nie? Dit is die mooiste woorde wat
ek nog ooit gehoor het, en dit is so mooi, want ek weet dit is waar.
Dit is sooo 'n mooi storie!
ReplyDelete