Ek het dit duidelik
gemaak dat ek nie van die "cliche" van Valentynsdag hou nie en dat ek
nog minder een van daai meisies is wat van rooi
rose en rooi sjokolade harte hou
wat so algemeen en onoorspronklik is.
"Valentynsdag is eintlik net 'n geldmaakstorie. Dit is geforseerd en glad nie spontaan
nie", het ek al menige male uitgelaat en wéér toe die winkels al einde
Januarie hul Valentynsdag voorraad begin uitstal het. "Ja dit is so. En jy
is 'n kaalvoetmeisiekind met veldblomme in jou hare" het manlief saamgestem en my opgetel en in
die rondte gedraai. "Is jy seker jy wil niks op Valenstynsdag doen
nie?" "Ek is seker", het ek gesê.
Maar hier word ek
wakker op die 14de Februarie sonder 'n enkele rooi roos...en ek is okay.
Soos die dag aanstap word ek al minder okay. Iets pla.
Almal by die werk vertel van hulle Valentynsdagrose en romantiese planne
vir die aand. "Nee dankie, die hele
wêreld gaan seker vanaand opdress en by een ander deftige restaurant gaan eet,
hoe kan dit nou spesiaal wees? En ek hou
nogsteeds nie van rooi rose nie," het ek myself in my gedagtes getroos.
By die huis gekom is
ek sommer PMS-erig en ek is onsteld oor
elke koppie wat nog nie in die skottelgoedwasser gepak is nie. Ek kan sien
manlief probeer sy stappe backtrack om uit te pluis of daar dalk enige
iets kon wees wat hy dalk verkeerd gedoen het, maar sy oë bly 'n
vraagteken. Hy verdwyn na sy grot.
Toe die laaste
skottelgoed weggepak is, hoor ek sy stem
agter my. "Jy toets my." Ek draai na hom, kyk hom aan en my
lyftaal sê: "Waarvan praat jy?"
"Dit is Valentynsdag. Jy hou
nie van Valentynsdag nie, maar jy het 'n toets opgestel om te kyk of ek dit
gaan slaag. " Ek wou sommer dadelik
begin stry maar gou genoeg besef ek dat dit waar is. Die toets wat ek opgsetel het het ek gedoen
sodat hy nie anders kan as om te faal nie.
Ek het hom so te sê beveel om nie enige ag aan Valentynsdag te gee nie
maar nou is ek onsteld omdat hy tog niks gedoen het om die dag spesiaal te maak
nie, al was dit net met 'n simpel rooi roos.
"Ek is
jammer", sê ek en ek probeer om nie te begin huil nie . "Die wêreld
het my vir 'n oomblik laat twyfel aan hoe liefde lyk, aan ons liefde vir mekaar
en jou liefde vir my. Ek weet jy is lief
vir my en jy wys die elke dag met jou geduld, vriendelikheid, goedhartigheid en onbaatsugtigheid. Dit is meer waardevol as bosse en bosse rooi
rose. Ek het nie Valentynsdag nodig om
my te herinner aan jou liefde nie. Ek is
jammer dat ek dit so maklik vergeet het.
Ek is lief vir jou ook."
Manlief se oë helder
op van blydskap, hy vee al my onkeerbare trane met sy een hand af en glimlag.
Net toe ek begin simpel voel dat ek oor Valentynsdag huil haal hy 'n veldblom agter sy rug uit, tel my in die
lug en draai my in die rondte! "Wat
van 'n piekniek op die gras?"
No comments:
Post a Comment